Perth Afrikaans Reformed Church
Agtergrond
Februarie 2006 beroep PARC (kerk) `n eerste permanente leraar.
Die amptelike stigtingsnaweek was Februarie 2004 en die herdenking in Februarie 2005.
PARC (kerk) is ingelyf as `n nie-winsgewende organisasie en ons webblad http://www.parc.org.au is geregistreer.
Ons logo en leuse `Om God se stem en hande vir Afrikaanssprekendes in Perth te wees` is aanvaar.
`n Amptelike kerkraad is verkies om by die stigterslede oor te neem.
Tydens Pinkster 2004 en 2005 is daar Afrikaanse Pinksterreekse in Perth aangebied.
Die eerste vier jongmense lê belydenis van geloof af.
Die doop word aan drie babas bedien.
Die eerste Kerkbasaar is in Oktober 2004, suksesvol aangebied met `n wins van meer as $3000 (ongeveer R15000).
Die tweede Kerkbasaar is in Oktober 2005 suksesvol aangebied, met `n wins van meer as $4500 (ongeveer R22000).
Die gemeente groei tot meer as 150 lidmate (49 besoekpunte). Ons dank ons Hemelse Vader vir die groei in die gemeente . Augustus 2006 reeds 294 lidmate. Februarie 2007 net onder 400 lidmate.
Ons verkry waarnenemerstatus by die Classis (ring) van die Christian Reformed Churches of Australia, (CRCA) in Wes-Australië.
Ons skakel direk met die Kommissie vir Buitelandse Bediening, `n gekombineerde aksie van die susterkerke.
Uitdagings van `n unieke bediening
`n Kerk in Australië wat sy bediening op die Afrikaanssprekendes toespits, vereis `n spesiale benadering. Baie immigrante het slegte ervarings in Suid-Afrika gehad, en het baie verloor om hier te wees. Ons is ook te trots of te skaam om ernstige probleme by die werk, met finansies, die huwelik of kinders openlik te bespreek. Dit en die stres van emigrasie, waar jy sonder `n ondersteuningstelsel van familie en vriende groot aanpassings in lewenstyl en -kwaliteit ervaar, vereis dat die kerk lidmate met liefde en baie geduld, pastoraal sal versorg en ondersteun.
Afrikaanssprekendes wat al `n geruime tyd in Australië woon, se behoeftes en belange verskil van die wat pas geimigreer het. Lidmate met kinders wil `n sterk kinder- en jeugbediening hê sodat die tradisionele Christelike waardestelsel behoue kan bly, om veral groepsdruk en dwelmmisbruik teë te werk.
`n Balans moet dus gevind word tussen die bediening van die jeug, die bediening van volwasse en ouer lidmate, ons `Suid-Afrikaansheid` en die feit dat die kerk gemeente in Australië is, en na kerklos Afrikaanssprekendes en nie-Christene moet uitreik.
Ons kerk gemeente het meer professionele persone en sakelui, maar minder pensioenarisse en afgetredenes as die gemiddelde Suid-Afrikaanse kerk gemeente. Verder woon ons lidmate oor `n geografies uitgestrekte gebied (60 km noord na suid en 30 km na die binneland) wat groot uitdagings aan die bestuur van die kerk stel. Dit is dus belangrik dat die kerk dinamiese leraars en sterk gemeentestrukture in plek het, om die gemeente te bedien, sodat die aktiwiteite van die kerk nie nèt die leraar se verantwoordelikheid is nie.
Finansies
`n Dollar is op papier miskien vyf keer meer werd as `n Rand, maar het amper dieselfde koopkrag. Almal voel hulle moet hard werk en spaar om net weer die Suid-Afrikaanse lewenstandaard te bereik. Ongelukkig dra dit nie by tot `n goeie inkomste vir die kerk nie. In `n Australiese kerk gemeente met ons getalle sal die meerderheid lidmate se huise en die kerkgebou reeds afbetaal wees. Ons begin onder. Ons prioriteite is om die kerkhuur te betaal en die predikant `n billike traktement te gee onder die omstandighede. Ons sou egter meer jeug- en uitreikprojekte wou loods maar kan dit tans nie bekostig ni.e
Taal
Die taalkwessie bly `n moelike probleem omdat elkeen anders daaroor voel. Sommiges dink hulle help hulle kinders deur slegs Engels met hulle te praat.
Ander dink dit is verkeerd want omdat Engels nie ons moedertaal is nie, leer ons die kinders die verkeerde aksent, sinskonstruksie en dies meer. Tweetaligheid word hoog geag in Australië, en daar word beweer dat iemand wat tweetalig is, beter taalvaardighede het as die wat slegs een taal magtig is.
Daar is egter baie kinders wat nie die Afrikaanse erediens wil of kan volg nie. Normaalweg sou verengelsing outomaties plaasvind sodat ons kinders waarskynlik die dienste in Engels sou verkies, maar met die konstante vloei van nuwe aankomelinge uit Suid-Afrika bly Afrikaanssprekende kinders steeds in die meerderheid. Die vraag bly dus: moet verengelsde gesinne na `n Engelstalige kerk gaan of moet ons hulle akkomodeer en hoe sal ons dit doen.
Visie
Dit is die strewe van die Perth Afrikaans Reformed Church om hierdie uiteenlopende behoeftes te kan saamvat, en `n omvattende bediening daar te stel waarmee elke Afrikaanssprekende Christen homself kan vereenselwig, en waarbinne hy sy Christenskap kan uitleef.
Alhoewel die uitlewing van ons Christelike geloof die rede is waarom ons kerk bestaan, is daar voldoende kerke wat reeds so `n bediening vir Engelssprekendes aanbied. Ons bediening en ons bestaansreg word gevind daarin om uit te reik na die baie groot groep onbetrokke Afrikaanssprekendes in Perth.
Ons visie word soos volg saamgevat: Om God se stem en hande vir Afrikaanssprekendes in Perth te wees.
